Die jagter beweeg
hurkend agter die bossie uit, hy
maak seker sy kaal voete trap niks raak wat sy prooi kan laat skrik nie…
Hy mik. Hy trek die
pyl… en swoooshhh. Dis raak! ‘n Paar kilometer verder kry hy die bokkie
waar sy hart gaan staan het.
Het julle geweet die gif op die boesmans se pyle kom meestal van
melkbosse af?
Alle bome wat wit sappe maak as jy ‘n tak afbreek word ‘n
melkbos genoem. En daardie wit sappe is
baie giftig.
Die melkbosskoenlapper word so genoem omdat hy net die nektar van die
blomme van melkbosse eet. Dit maak hom
natuurlik ook baie giftig.
Sy helder rooi en swart kleure wys vir die voëls
en verkleurmannetjies dat hy giftig is.
En daarom spring hy hulle spyskaarte mis. Die kleur van die skoenlapper is miljoene klein skubbetjies op sy vlerke wat oorvleuel soos dakteels.
Die melkbosskoenlapper sien net skakerings van geel en het
ook ‘n baie goeie reuk sintuig – in sy voete!
En daarom is die blomme van ‘n melkbos vir hulle ‘n koningsmaal!
Skoenlappers het nie ‘n brein nie. Al sy sintuie het klein breintjies wat hulle
beheer. Daar word gesê 2
koppe is beter as 1 – wat dan nog van ‘n klomp breine?!
Eiertjies word een-een in Oktober, Desember en Februarie
onder ‘n takkie naby die melkbos se blare gelê. Sodat die larwe naby sy kos is.
Wat baie interresant is, is dat die larwe vooraf weet waar
in die boom hy gaan uitkom – larwes naby ou takke met harde blare ontwikkel
sterker kake as die wat uitkom by jonger blare.
Hierdie larwe is ook baie giftig en kan nie geeet word
nie. So hoe beheer die natuur dan
hierdie insek sodat die melkbosse nie uitsterf nie?
Die larwe het ‘n spesifieke reuk wat perdebye lok. Die perdeby lê dan ‘n eiertjie op die larwe
– wat dan op die finale stadium die papie van binne af opeet.
Die melkbosse het al so ontwikkel dat hulle die reuk van die
larwe naboots en so verdedig hulle dan hulleself.
Die larwe heg homself met gom wat agter uitkom aan die
onderkant van ‘n blaar vas. Die papie is
presies dieselfde groen kleur as die blaar.
As jy na ‘n maand aan die verharde papie trek sal hy nie van
die blaar af kom nie maar die blaar sal afbreek. Is dit dalk die natuur se wondergom?
En kan julle glo die jagter gebruik die einste wondergom van
die larwe om die giftige wit sap aan die voorpunt van sy pyl vas te sit.
Die jagter
maak die bokkie agterop sy rug vas en begin die lang tog terug.
Danksy die
melkbos en die melkbosskoenlapper het sy mense ‘n vleisie vir die week se
kospotte.
No comments:
Post a Comment